Dinsdag 10 November 2015

VERSTAAN HAAR...?

VERSTAAN HAAR...?
My man sê altyd; " Die eerste ding wat ek die Here eendag gaan vra is; Here hoe werk my vrou se kop?" Ek kan dan maar net vir hom glimlag want dit is in werklikheid eintlik nou al moontlik dat mans vrouens beter kan verstaan.
Na 19 jaar se getroude lewe het ons darem al heelwat gevorder. Ek wil 'n paar dinge deel wat vir ons huwelik werk. My eie man was verstom oor hierdie waarhede en hopenlik sal dit ander mans ook help om die ligskakelaar in die donker kamer te ontdek. 
1.)  'n Vrou wil weet dat haar man haar lief het. Dit beteken dat  alhoewel julle verhouding dalk baie goed is,  dat jou vrou,  net soos elke ander vrou,  'n  fonda-mentele onsekerheid het oor jou  liefde vir haar. Wanneer daardie onsekerheid gesneller word  sal sy reageer op maniere wat vir jou as man verwarrend en ontstellend kan wees. Sê net weer vir haar dat jy haar lief het en haar onver-staanbare optrede sal verdwyn soos mis voor die son.
2.)  Vrouens is emosioneel. Ek weet jy dink: "Dit weet ons tog almal!" Ons as vrouens, deel met baie emosies en  gedagtes van die verlede en hede op dieselfde tyd. Dit is nie vir ons maklik om dit opsy te skuif nie. Ons is maar net so geskape.
3.)  My man is reg. Dit is vir mans moeilik om vrouens te verstaan, maar nie onmoontlik nie. Daar is gewoonlik 'n logiese rede waarom sy optree soos wat sy doen en sê wat sy sê. Gedrag wat jou as man verwar en frustreer is gewoonlik een of ander hulpkreet van haar kant af.
4.)  Jou vrou benodig baie emosionele sekuriteit van jou kant af. Haar behoefte aan emosionele  sekuriteit en intimiteit van jou af, is so sterk dat sy bereid is om finansiële sekuriteit daarvoor op te offer. 
5.)  Wanneer sy 'n emosionele uitbarsting beleef wil sy nie noodwendig hê jy as man moet die  probleem oplos nie. Sy wil net hê jy moet na haar luister. Die behoefte om gehoor te word is gewoonlik baie belangriker as die probleem self. 
6.)  Die meeste vrouens is nie seksueel so aktief soos hulle mans wil hê hulle moet wees nie. Ons het net nie so groot behoefte daaraan soos die mannne nie. Dit beteken egter glad nie dat sy jou as  man nie seksueel begeer of aantreklik vind nie.
7).  Oor die algemeen het vrouens 'n diepe innerlike behoefte om aantreklik te wees. Die klein dogtertjie binne in haar wil hoor dat sy mooi is. As jy as haar man daardie behoefte vir haar vervul, sal sy nog meer moeite doen om nog mooier vir jou te wees.
Oor die volgende paar weke gaan ek heelwat uitbrei op die bogenoemde punte en ook ander geheime van die vroulike hart openbaar. Ek sal bespreek hoe ek en my man dit prakties toepas in ons huwelik en hoe dit vir ons werk.
Elke man moet hierdie waarhede in diepte ontdek om werklik die ridder op die wit perd vir die vrou in sy lewe te wees. 

Geen opmerkings nie: