Vrydag 23 Oktober 2015

SY GEHEIME OOR ROMANSE

SY GEHEIME OOR ROMANSE...

"Dink hy om romanties te wees is tyd mors?"

Het jy geweet dat 98% van die manne, ongeag hul voorkoms, ouderdom of kultuur, 'n behoefte het aan romanse? Ja, dit is beslis die waarheid.

Jou idee van romanse mag dalk net verskil van syne, en dan mis julle mekaar op daardie vlak. Jy sien, vrouens kry die indruk dat romanse slegs bestaan uit blomme, sjokolade of 'n geskenkie, kerslig ete en miskien bietjie liefkosing en lepellê. Dit is nie verkeerd nie. Vrouens het 'n behoefte daaraan en mans ook soms. 

Vir party mans het romanse 'n heel ander betekenis. Hulle idee om romanties te wees, is om saam met hul vrouens te speel. Hulle wil avontuurlistige dinge saam met hul vrouens doen, soos perd ry, gholf speel, motorfiets ry, 'n ent gaan stap of net in die motor ry. Selfs om so bietjie te stoei is ook vir hom romanties. Hulle wil aktiwiteite saam met hul vrouens aanpak. Ons het dit nou al soveel keer gemis omdat ons dit nie besef het nie. En elke keer was hy teleurgesteld en hartseer.

Soms moet 'n vrou die pligte bietjie op sy skuif om saam met haar man te gaan speel. So wat daarvan as die skottelgoed nie nou gewas word nie? Gaan ry eers bietjie fiets saam met die liefde van jou lewe. Dis baie belangriker as die vuil skottelgoed. Die lewe is so kort. Ons moet leer om mekaar te geniet en te waardeer terwyl ons nog kan. Wie weet wat more mag gebeur?

Mans is ongelukkig ook nie geneig om romanse te inisieer nie. Die soort waarvan vrouens hou, die kerslig ete en alles wat daarmee saamgaan. Hulle voel net dood eenvoudig onbevoeg daarmee en wat ons nou al van die manne geleer het, is enige kans om sy ego op die spel te plaas heeltemal buite die kwessie. So dit is hoekom vrouens onder die indruk verkeer dat mans nie romanties is nie. Hulle wil eintlik baie graag romanties wees, maar is te bang om dit te waag.

Indien hy dit sou waag om op jou manier romanties te wees, en dit blyk om suksesvol te wees, moet jy ook maar weet hy soek betaling. Ja, natuurlik... SEKS! Maar nie net seks nie. Hy wil intiem liefde maak. Die hele romantiese ding was vir hom 'n geweldige uitdaging en baie harde werk. Hy wil jou goedkeuring ervaar en sy manlikheid bevestig en dit gebeur natuurlik deur middel van die liefdesdaad. So dames, indien jy gelukkig genoeg is dat die man in jou lewe iets romanties beplan, moet jy weet wat sy teiken aan die einde van die aand gaan wees. Indien dit nie gebeur nie, sal jy beslis nie gou weer iets romanties van sy kant af kan verwag nie. 

Party van ons is gelukkig dat ons soms blomme of sjokolade van manlief af kry. Waardeer sy moeite. Kompliment eer hom daarvoor, maak nie saak hoe gering sy gebaar is nie. Dit sal vir hom die selfvertroue gee om volgende keer bietjie meer te waag. 

Julle moet 'n middeweg vind om in mekaar se romantiese behoeftes te voldoen. Hy moet so nou en dan die blomme en sjokolade ding doen terwyl jy aan die ander kant weer 'n aktiwiteit saam met hom doen wat hy geniet. Verhoudings is baie werk en ons moet moeite doen om mekaar te verstaan en aan te vul. Dit is oor en oor die moeite werd. Die pad van maanskyn en rose is nie sonder dorings nie, maar dis absoluut asemrowend en versprei die lieflikste geur. 

Ek daag jou uit om jou man se voete onder hom uit te slaan hierdie week. Stel voor dat julle 'n aktiwiteit wat jy weet hy geniet saam doen en kyk wat is die gevolg...


Vrydag 16 Oktober 2015

HOE LYK JY VIR HOM?

HOE LYK JY VIR HOM?

Dit is 'n vraag wat verskillende emosies tuisbring by mans en vrouens. 

As jy weet jy lyk fisies goed dan voel jy goed. Maar as jy nie tevrede is met jouself nie, wil jy soos 'n volstruis maak en jou kop in 'n gat druk en hoop niemand sien jou raak nie. Dan aan die ander kant, hoeveel van ons is tevrede met onsself? Elke vrou het maar ietsie waaroor sy ontevrede is. 

Almal van ons het nog vol programme elke dag en is geneig om onsself af te skeep. Dan kyk ons eendag in die spieël en sien skielik 'n heel ander vrou as die stralende bruid na ons toe terug staar..., maar troos onsself daaraan dat skoonheid vergaan en dit is in elk geval nie die uiterlike wat saak maak nie, maar die innerlike. 

Wat is die manne se opinie? Ons weet dat hulle visueel ingestel is en dit maak ons soms moedeloos. Maar die goeie nuus is dat God al die potensiaal in jou gesit het om vir jou man fisies aantreklik te wees tot so 'n mate dat hy net oë vir jou sal hê. Nee, ek praat nie van die super-model voorkoms in die tydskrif nie. Ek praat van jou, 'n regte vrou. 

Die waarheid is dat die mooiste vroue vir mans, nie die supermodelle is nie.Vir hom is dit 'n regte vrou wat gemaklik is in haar vel, selfvertroue het, goed versorg is en avontuurlustig die lewe saam met haar maat geniet.

Dit is egter vir jou man BAIE belangrik hoe jy lyk al sou hy dit ook ontken. 'n Man het eenkeer gesê dat as hy 'n man sien met 'n vrou wat verslons lyk en onversorg is, voel hy jammer vir daardie man. Al is sy ook hoe mooi en maer. Kan jy jou indink hoe voel daardie man dan, want hy weet die ander man kry hom jammer. Dit breek sy selfvertroue en vermoë om te presteer heeltemal af. 
Maar wanneer 'n man 'n ander man sien met 'n goed versorgde vrou, al is sy ook oorgewig, dink hy; "My vriend jy het goed gedoen in die lewe". Natuurlik sal daardie man se bors swel. Jou man voel dat jy vir hom omgee en lief is wanneer jy mooi na jouself kyk.

Jou man is jou maat. Hy wil die lewe saam met jou geniet en dinge saam met jou doen. Dit breek egter sy spoed as jy te oorgewig is om die energie te hê om dit saam met hom te doen. Dit is jammer, maar om baie oorgewig te wees is nie net sleg vir jou gesondheid nie, maar vir jou huwelik ook. Daarmee sê ek nie jy moet 'n nommer 10 rok dra nie. Die meeste manne hou van 'n vroulike figuur met kurwes. Dit maak haar sag en vroulik. Ek verstaan ook maar al te goed dat 'n vrou se liggaam verander as gevolg van hormone en swangerskappe. Maar as jy die moeite doen om van jou kant af jou gewig in toom te hou, sal dit ongelooflik baie vir jou man beteken.

Jy moet ook moeite doen met jou kleredrag. Lyk netjies en versorg. Moenie dat jou man jou net in sweetpak broeke en t-hemde sien nie. Onthou, hy werk deur die dag en die vrouens by sy maatskappy lyk gewoonlik goed. Hare, naels, grimering en kleredrag. Moenie dat jou man huis toe kom en na 'n uitgewaste lappie van 'n vrou moet kyk nie. Maak dit deel van jou daaglikse roetine om jouself mooi te versorg. Jou man sal dit waardeer omdat hy gelief sal voel. Dit sal jou huwelik 'n hupstoot gee en selfs jou kinders sal gelukkig wees omdat hulle die liefde tussen mamma en pappa sal sien en boonop trots wees op hulle mooi ma. Nee, jy hoef nie in stilletos rond te trippel nie. 

Jy hoef nie duur skoonheidskure aan te durf of heeltyd met satyn nagrokkies te slaap nie. Dit sal natuurlik goed wees indien jy jou man so nou en dan verras met 'n wulpse nagrokkie, maar dit gaan daaroor dat jy altyd goed versorg moet lyk. 

Wees die vrou wat God jou geskape het om te wees en ervaar die verrassings wat daarmee saamgaan. Moenie daarop uitmis nie. Dit is beslis die moeite werd.



Vrydag 09 Oktober 2015

LOER HY ASPRIS OF PER ONGELUK...?

LOER HY ASPRIS OF PER ONGELUK...?

"Dit maak egter nie saak hoe oud, jonk, watter kultuur of geloof hy is nie..."

Ons het almal al gehoor dat mans visueel ingestel is, maar wat beteken dit regtig?

Die volgende inligting mag dalk seker vroue ontstel, maar ek wil jou aanraai om dit tot voordeel van jou verhouding met jou man te gebruik. Moenie skietgoed bymekaar maak nie, maar leer om hom te verstaan en te ondersteun. Onthou, hy, net soos jy, is deur God geskape en na Sy beeld. Indien jy hierdie inligting tot jul voordeel gebruik kan jou verhouding baie pret inhou.

Kom ons kyk na die manlike brein en sy bedrading. Die man se breinstuktuur en chemiese stowwe maak hom baie visueel georienteer. Daardie tipe bedrading maak hom meer vatbaar vir die aantreklike beeld van 'n mooi vrou wat hy as 'n seksuele sneller kan ervaar.Sy reaksie is instinktief en outomaties. 

Daar is 'n klein sentrum in die brein wat die "nukleus accumbens" genoem word. Hierdie gedeelte van die brein beheer die dinge waaraan ons nie noodwendig dink nie soos, asemhaling, hartklop, spysvertering ensovoorts. Dit is ook die gedeelte van die brein wat ophelder wanneer jy vreeslik honger is en instinktief na kos getrek word. Net soos jy kan besluit om dadelik te eet of dit te ignoreer, net so gebeur dit wanneer 'n man 'n mooi vrou sien. Die "nukleus accumbens" helder op. Hy word instinktief na haar toe aangetrek, maar dan kan hy besluit om op die versoeking te reageer of te ignoreer. Dit maak egter nie saak hoe oud, jonk, watter kultuur of geloof die man is nie. Alle mans is so bedraad. Dit wil tog voorkom dat gelowige getroude mans meer selfbeheersing in daardie opsig toon as die res. Die intensiteit daarvan varieer wel van man tot man. Die ergste is dat hierdie verleidelike beelde gestoor word en dat dit onwillekeurig weer in sy gedagtes voorkom, of hy kan dit willekeurig oproep. Wanneer dit onwillekeurig hul opwagting maak, kan hy dan weer kies om dit te ignoreer. Vir die meeste vroue is dit egter onverstaanbaar omdat ons nie so bedraad is nie. 

Omdat hy 'n man is kan hy nie help om te kyk nie. Maar dit verander nie sy emosies teenoor jou nie. Daar is ook nie iets met jou verkeerd dat hy na 'n ander vrou loer nie. Indien jy hom betrap, staan bietjie terug en sien hoe gou hy skaam kry en wegkyk. Dit omdat hy jou lief het en respekteer. Dit verg baie selfbeheersing, krag en dissipline van sy kant af om jou op hierdie manier te eer.

Daar is tog gerusstellende elemente wat 'n groot deel uitmaak van jou man se innerlike lewe. Hy wens waarskynlik dat hy sy visuele natuur slegs vir jou kon reserveer. Alhoewel hy getrek word na die beeld van 'n mooi vrou kan hy haar ook sien sonder enige seksuele versoeking. Mans verskil in dissipline en dit maak die verskil in sy gedrag.

As vrou kan jy jou man help en bystaan. Eerstens kan jy vir hom bid. Hy word daagliks gebombardeer met visuele versoekings van mooi half naakte vroue. Die groot sondebok daarvoor is die media met al die advertensies van produkte wat verkoop word met 'n half kaal vrou as aantrekkingskrag. 

Ondersoek jou hart. Is jy lief vir jou man vir wie hy is, of wil jy hom verander? Onthou, dit is God wat hom geskape het. Een man het hierdie baie diep innerlike onthulling gemaak. Dit is eintlik 'n hulpkreed na sy vrou...
"To accept the struggle I have with lust, and encourage me rather
 than freak out and conclude the worst about me. The more I can reveal
 my weakness without being judged or accused, or without a major crisis
 in our relationship resulting from my transparency, the more I know I am
 loved for who I am and not for who she wants me to be."

Word die ondersteuning. Laat jou man weet dat jy verstaan deur watter moeilike situasies hy elke dag moet gaan, in terme van sy visuele ingesteldheid, en dat jy bereid is om daaroor te gesels indien hy sou wou. 

Sien sy pogings raak om jou te eer wanneer hy wegkyk en waardeer dit. 

Vrouens moet bewus gemaak word van die probleem wat hulle vir 'n man kan skep deur hul kleredrag. Klee jouself skaflik en leer jou dogters om dit ook te doen.

Nou dat jy weet hoe jou man visueel bedraad is, kan jy dit ook tot jou voordeel gebruik. Jy kan sorg dat jy is wat hom visueel stimuleer. Versorg jouself mooi en wees bietjie verleidelik in die slaapkamer. Hy sal daardie prentjie koester omdat dit verband hou met sy liefde vir jou. Wees mooi, vroulik en smaakvol geklee in die openbaar. Sy bors sal swel van trots as ander mans jou raaksien en hy weet "sy is myne!" Hy wil met jou aan sy sy kan spog. 





Vrydag 02 Oktober 2015

WAT BETEKEN SEKS VIR HOM?

WAT BETEKEN SEKS VIR HOM?

Jou seksuele begeerte na jou man affekteer sy welstand en selfvertroue op elke vlak van sy lewe.

Mans soek meer seks! Nee, dit gaan nie net oor die fisiese deel daarvan nie.Om seksueel met sy vrou te verkeer laat hom emosioneel stabiel voel. Dit gee hom krag en selfvertroue om die wêreld aan te durf. En natuurlik is daar liefde aan gekoppel. Maar hy wil ook begeer word. Die daad alleen is nie genoeg nie. Hy het jou nodig om hom seksueel te begeer en om intiem met hom liefde te maak. 'n Tekort daaraan is vir hom emosioneel aftakelend.

Hoe sterk 'n man se behoefte aan seks ook al mag wees, sal hy liewer in die 'garage' gaan timmer as om seksueel met 'n passiewe maat te verkeer. Dit help nie jy besef dat seks vir hom belangrik is en jy laat dit maar net toe uit plig nie. Hy het nodig dat jy hart en siel saam met hom die spel van die liefde geniet. Anders voel hy verwerp. Hy hoor dan dat hy jou nie eers opgewonde kan maak nie, al probeer hy ook. Dit is 'n groot hou vir sy selfbeeld.

Wanneer jy vir hom sê; "nie vanaand nie, liefie", voel hy verwerp. Jy bedoel dalk dat jy moeg is en net nie nou seksueel wil verkeer nie, maar hy voel verwerp. Die rede daarvoor is dat hy hoor dat hy so pateties is, dat hy nie eers met jou kussing kan kompeteer nie. 

Het jy geweet dat seksuele intimiteit vir jou man so nodig is dat as hy dit nie kry nie, hy in depressie sal verval. Erg, nè?

Jy as vrou hou die sleutel tot jou man se geluk en sukses. Jy kan die seksuele gaping oorkom deur te kies om jou man lief te hê op die manier wat hy dit nodig het. En wanneer jy regtig nie intiem met hom kan verkeer nie, onthou dat jy met 'n sensitiewe hart werk. Gebruik woorde en aksies om hom te laat verstaan dat jy hom begeer en intiem met hom wil verkeer, maar dit net nie nou fisies vir jou moontlik is nie. Praat sag en liefdevol.

Raak betrokke by die spel van die liefde en geniet dit. Sit pret daarin. Jy mag maar. Hy sal dit beslis waardeer. Manne het die behoefte aan 'n goeie vrou met morele waardes wat vriendelik is teenoor almal. Maar wanneer die kamerdeur toe getrek word, moet sy in 'n wilde kat verander. Al wat dit beteken is dat jy soms die eerste stap moet neem om seks te inisieer. Hulle sê; "a boring wife, a boring life".

Maak seks 'n prioriteit. Jou man het jou seksueel meer nodig as skoon klere of selfs 'n warm bord kos. Moenie dat jou daaglikse pligte jou van jou man vervreem nie. Kry jou prioriteite reg en wees die vrou wat jy geskape is om te wees. 'n Maat vir jou man... 
Indien daar een of ander rede is hoekom jy voel dat jy nie seksueel selfvertroue het nie, doen die moeite en kry hulp om die probleem op te los. Dit sal jou man, jou verhouding en jou eie huweliksgeluk bevoordeel.

Nou dat jy hierdie teer hart van jou man verstaan, het jy hopenlik meer kompassie ontwikkel vir die manier hoe hy gemaak is. 

Geniet jou man, mevrou!