Vrydag 13 November 2015

LIGTE AAN ASB!

LIGTE AAN ASB!

"As jy nie vir haar wys dat jy haar lief het nie voel jou vrou maklik dat sy nie waardeer word nie".

Meneer, jy weet hoe die behoefte voel om 'n goeie voorsiener vir jou familie te wees. Jy wil graag goed vir jou vrou en kinders kan sorg en dit is iets wat heeltyd in jou onderbewussyn is. So voel jou vrou se behoefte daaraan om te weet dat jy lief is vir haar. Dis iets wat heeltyd in haar onderbewussyn is.

As jy nie vir haar wys dat jy haar lief het nie voel jou vrou maklik dat sy nie waardeer word nie. Dan die begin die onverstaanbare gedrag. Die ou dingetjies wat jou so kan verwar en irriteer. Daardie skielike konflik uitbarstings, die stil stuipe of haar onverklaarbare skielike koudheid teenoor jou terwyl jy aan geen rede kan dink wat jy dalk verkeerd gedoen het nie. En wanneer sy emosioneel af is, gebeur dit nog makliker.

Jy verstaan hierdie gedrag natuurlik glad nie. Dit gaan dan eintlik baie goed in jul verhouding en dan kry sy skielik sulke nukke. Die manlike natuur is om so gou moontlik te onttrek en te hoop sy voel beter as hy haar weer sien.
FOUT!
Haar gedrag gaan dan net intensifiseer...

So wat doen 'n man dan nou?  Om die gedrag te ontlont het jy nodig om vir haar te wys dat jy haar lief het. Nee, ek praat nie van seks nie. Sy gaan jou in elkgeval nie naby haar toelaat nie. Jy het nodig om haar gedurig van jou liefde te verseker. Jy moet haar hart elke dag wen. Jy het nie jou finale oorwinning van haar hart gehad die dag toe julle getroud is nie. Dit is 'n aanhoudende proses.

Dink aan hoe dit was voor julle troue, toe jy geweet het jy moet werk om haar hart te wen. Julle het vir mekaar boodskappies gestuur om net gou "Hi" te sê. Jy het dalk dinge gedoen soos om met 'n blom voor haar deur op te daag, of net 'n post-it op die mikrogolf met 'n hartjie op. Dit is nie nodig dat dit geld of baie moeite moet wees nie. Dis die klein dingetjies wat saakmaak. Sy wil net weet jy dink aan haar...

Dan moet jy weet dat wanneer 'n vrou ontsteld is het sy 'n drukkie nodig. Maak nie saak hoe kwaai sy voorkom nie. Gaan staan voor haar, kyk haar in die oë en sê; "Alles gaan ok wees, liefie." (Bedoel dit). Dan gee jy haar 'n drukkie. Die meeste vrouens se weerstand verkrummel dadelik. Sy sal voel dat jy haar lief het en regtig omgee.

Nou kom die groot uitdaging meneer. Sy gaan tien teen een oor julle verhouding wil gesels. Dit is nie noodwendig net wanneer sy ontsteld is nie. Maar wanneer jy by daardie uitdaging kom, bly kalm en moenie probeer spore maak nie. As jy gaan wegdraai van hierdie gesprek af, kry sy ook die boodskap dat jy haar nie meer lief het nie. Jip, en dit beteken moeilikheid! Haal eerder diep asem en luister na wat sy op die hart het.
Die ander geheim in hierdie situasie is dat jy dit nie as 'n aanval moet beskou nie. Hierdie gesprekke gaan gewoonlik vir haar daaroor om net weer verseker te word van jou liefde. So sê dit vir haar.

Wanneer julle in konflik is met mekaar, sal 'n vrou maklik dink dit beteken die einde van die verhouding en jou liefde vir haar. Selfs as jy kwaad is vir haar en jou spasie nodig het, sê vir haar; "Ek is lief vir jou, maar ek het nou my spasie nodig". Jy sal dalk verbaas wees om te sien hoe maklik sy jou sal toelaat om jou spasie te kry en dit kan moontlik al die helfte van die konflik vuur blus.

Wanneer vroulief die een is wat die weghol ding doen, moet jy haar volg. Maak nie saak wat sy sê nie. Sy gaan nie vir jou sê sy wil eintlik hê jy moet haar volg nie, want sy wil hê jy moet self besluit dat jy haar lief genoeg het om te volg. Die boodskap wat sy kry is; "Wow, eintlik is hy nog lief vir my".

Ek weet vir 'n man klink dit belaglik, maar dit is dalk wat Paulus bedoel het toe hy aan die gemeente van Efese geskryf het dat die manne hulle vrouens moet lief hê soos Christus die kerk lief het. Al loop die mensdom weg van God af, is Hy altyd bereid om die verlore skape met liefde te volg.

Verhoudings hoef nie regtig so gekompliseerd te wees nie. As mense moeite doen om mekaar te verstaan is dit soveel makliker.

So meneer, pluk vir jou vrou 'n blom. Jy hoef niks te sê nie, die blom sal die praatwerk doen.


Bronne:Shaunti en Jeff Feldhanh se boek "For men only".
           Dedrè Delport - Persoonlike ervaring as vrou.  

Geen opmerkings nie: