Vrydag 04 Desember 2015

DIE ONSIGBARE MAN...

DIE ONSIGBARE MAN...

"Hy was totaal verslae en geskok."

'n Hele paar jaar gelede, het my man sy besigheid op die been gebring en natuurlik baie lang ure gewerk. Dinge het goed gegaan en die besigheid het mooi gegroei. So het die geld ook meer geword en ons kon ons leefwyse verbeter. Mooi huis, goeie nuwe motor's ensovoorts. Die lewe was 'n lied!

Toe skok ek hom, met die woorde dat ek 'n egskeiding wou hê.... Hy was totaal verslae en geskok. Hy kon glad nie verstaan wat aangaan nie. Dinge gaan dan so goed.

Die feit van die saak is, ek was eensaam! Ek het met hom getrou omdat ek by hom wou wees. Hy was egter nooit tuis nie en dit het vir my gevoel asof ek net die huishoudster was. Ek moes die verantwoordelikhede tuis dra terwyl hy nie by my wou wees nie en my dan seker nie lief het nie. Hy kies dan om altyd te werk. So hoekom sal ek my dan afsloof vir 'n man wat my nie lief het nie en nie eers by my wil wees nie?

Hierdie saak het regtig baie konflik in ons huwelik veroorsaak en ons is amper geskei. My man kon nie my punt insien nie en het my beskou as ondankbaar. Ek het weer nie geweet hoe hy by daardie slotsom uitgekom het nie.

Vandag besef ek egter dat hy juis so hard werk omdat hy my lief het en goed vir my wil sorg. Hy wil aan my sekuriteit verskaf, want dit is mos wat 'n vrou wil hê. Dit is reg en goed so. Die probleem is dat die woord sekuriteit vir my 'n heel ander betekenis het as vir hom. Hy dink in terme van voorsiening en materiele dinge. Maar wat presies beteken sekuriteit vir my as vrou?

Sekuriteit is om te voel dat ek en my man na aanmekaar is. Dat ons aan mekaar behoort en mekaar lief het. Dit beteken ook om beste vriende te wees. Hoe kan 'n mens beste vriende wees met iemand wat nooit teenwoordig is nie?

Sekuriteit beteken dat hy toegewyd is aan my en altyd daar is vir my, maak nie saak wat gebeur nie. Dit is ook om 'n aktiewe deel van die huishouding te vorm in die alledaagse huislike lewe.

Laastens beteken sekuriteit dat hy poog om finansieel te voorsien.

Jy kon my man met 'n veer om tik toe ek vir hom sê, dat ek onder 'n boom saam met hom sal bly, net solank hy by my is. Dit beteken dat as ek weet my man is daar vir my, kan ek enige finansiële struikel blok trotseer. Ek sal liewer die finansiële uitdagings trotseer as om my man te verloor.

Ek wil in elkgeval 'n gelukkige man hê. Hy moet sy werk geniet en gelukkig wees daar. Maar hy moet ook genoeg tyd hê om te rus en die lewe saam met sy familie te geniet. Op die ou end is dit kwaliteit familie tyd wat saak maak. Dit is dié herhinneringe wat jy met jou saamneem en koester. Nie die herhinnering aan hoe groot jou salaris tjek was nie.

Liefde gaan oor verhouding en nie oor geld nie. 'n Vrou se behoefte aan sekuriteit is haar man. Selfs die Bybel praat daarvan dat 'n vrou se begeerte na haar man sal wees. Die hoof behoefte is nie dat haar man sekuriteit moet VOORSIEN nie, maar dat hy haar sekuriteit moet WEES!

So meneer, gaan wees jou vrou se beste vriend en spandeer tyd saam met haar. Dit is wat sy eintlik wil hê.