Vrydag 25 September 2015

IS SY WERK DAN BELANGRIKER AS EK... HY WERK ALTYD!

Is sy werk dan belangriker as ek... HY WERK ALTYD!


"Die dryfkrag agter hierdie obsessie..."

Werk, werk, werk! Dit is al wat hy doen....
Hy gaan in die oggende vroeg uit en kom saans laat tuis. Dan is hy stokflou en julle kan nie regtig mekaar se geselskap geniet nie. Dit is letterlik 'n gejaag om in die bed te kom, want more moet hy weer vroeg by die werk wees. Die kinders mis hulle pa en jy mis jou man.  Jy wens julle kan meer tyd saam spandeer. Is die werk dan belangriker as sy gesin?

Die antwoord is NEE! BESLIS NIE!
Die ding is wel dat jou man en die meeste ander mans almal gebore is met hierdie intense behoefte om die broodwinner en voorsiener te wees. Selfs al verdien jy genoeg geld om die hele familie te onderhou, maak dit geen verskil aan jou man se ingebore behoefte en verantwoordelikheidsin om die voorsiener te wees nie.

Die dryfkrag agter hierdie obsessie om te voorsien lê daarin dat dit die kern van jou man se identiteit vorm. Dit maak van hom 'n man van waarde. Dit laat hom sterk voel en dat hy nie net die vermoeë het nie, maar daarin slaag om die broodwinner te wees. Hy wil hê jy moet op hom kan staatmaak om 'n goeie voorsiener te wees. Jou man se werk is nie net 'n manier van leef nie, maar dit vorm in werklikheid 'n groot gedeelte van wie hy is.

Wanneer jou man 'n salaris huis toe bring is dit nie net vir hom geld nie. Dit is 'n liefdes bewys aan jou! Hy het iets om aan jou te bewys, dat hy waardig is van jou liefde want hy kan vir jou sorg. En hy WIL dit bewys.

Dit is ironies dat 'n vrou kla oor haar man se werksure en nie besef dat dit vir hom 'n liefdes offer en liefdes bewys aan haar is nie. Dis is vir hom verwarrend. Hy werk so hard, juis omdat hy jou lief het en die beste vir jou wil gee.

Die waarheid is egter ook dat daar ander motiverings is wat hier saamwerk. Jou man se onselfsugtige behoefte om 'n goeie voorsiener te wees, gaan gepaard met die intense behoefte om suksesvol te wees en dit laat hom sy werk geniet. Dit is 'n uitdaging. Jy moet jou man se behoefte om te werk, voorsien en suksesvol te wees waardeer. Solank hy 'n balans tussen die werk en gesinsverhoudings handhaaf. Eintlik moet jy dankbaar wees as hy sy werk geniet.

Maak seker hy weet dat jy bly is wanneer dit finansieel beter gaan, sodat hy weet  dat al sy obsessiewe harde werk die moeite werd was. Bedank hom gereeld vir sy harde werk. Jy kan selfs vir hom 'n geskenkie gee daarvoor. Gebruik jou verbeelding...


Vrydag 18 September 2015

HOE DINK HY...?

HOE DINK HY...?

"Hy dink selfs wat jou reaksie op sy aksie gaan wees..."

Het dit ook al met jou gebeur? Jy en die man in jou lewe is in 'n argument. Skielik staan hy op en stap uit. Jy hardloop agterna en sê iets soos; "Hoe voel jy daaroor?" of  "Wat dink jy?" of "Moenie weghardloop nie! Ons moet dit uitsorteer!" Dit lyk asof hy jou ignoreer en hardloop net vinniger en verder weg. Hy kan selfs in die motor klim en wegry. Jy is diep seergemaak en dink hy gee nie om hoe jy voel nie. Jy dink dat hy net nie lus is vir konflik en 'n geneulery nie. Jy is oorstelp met emosies van woede en moedeloosheid, want kyk net hoe behandel hy jou en die saak is nog nie opgelos nie...
So wat het nou eintlik hier gebeur?

Vrouens doen verbale prosessering. Ons werk deur goed deur daaroor te praat. 'n Vrou se brein het verskeie konneksie punte tussen die linker- en regter breinlob wat haar toelaat om vinnige prosessering van emosies te doen terwyl sy daaroor kommunikeer en terselfde tyd tot die gevolgtrekking kom van haar eie gedagtes en gevoelens. Wanneer sy hardop met haarself praat  kry sy meer duidelikheid oor die situasie en voel beter omdat sy dit op haar manier geprosesseer het.

'n Man daar teen oor is 'n interne prosesseerder. Sy brein is saamgestel om op een ding op 'n slag te konsentreer, dit in diepte te ondersoek en te evalueer. Hy sal iets deurdink, sy emosie ontleed en dan eers daaroor praat. Hierdie proses kan soms tyd neem, veral as dit oor emosionele kwessies gaan. Dit is meestal baie moeilik vir 'n man om oor iets te dink deur daaroor te praat.

Daar is die eintlike rede hoekom hy homself van die argument onttrek. Hy wil eers gaan dink om later daaroor te praat. Dit het absoluut niks te doen met hoe hy oor jou voel nie. Inteendeel, dit is juis omdat hy omgee dat hy onttrek om te gaan dink, wat 'n goeie ding is want, dit  wys dat hy nonsies wil praat nie, maar die saak liewer diep evalueer en uitsorteer. 'n Wonderlike gedagte wanneer vrouens dit verstaan, nè? 'n Man het net soveel emosies as 'n vrou. Hy kan dit net nie dadelik in woorde omsit nie. Dit is vir hom makliker om op sy emosie te reageer as om daaroor te praat.

Iets wat vir my as vrou 'n groot verassing is, was om uit te vind dat 'n man oor a-l-l-e-s dink. Hy dink selfs wat jou reaksie op sy aksie kan wees en hoe hy dit dan sal benader. Meestal weet hy dat wat hy gaan doen jou sal ontstel of nie, maar besluit in elkgeval om dit te doen omdat hy glo dat dit die beste opsie op die oomblik is. Dit is nie te sê dat hy altyd reg is nie. Manne maak ook foute. Maar 'n mens kan soveel konflik vermy deur nie eers af te gaan oor die onverstaanbare ding wat hy nou aangevang het nie, maar op 'n rustige kalm manier te vra hoekom hy doen wat hy doen. Jy mag baie keer verras wees oor sy logika.

Dan het jou man ook tyd nodig om oor niks te dink nie. Raar, maar waar! Het jy al heeldag daarna uitgesien om iets met jou man te deel. Wanneer hy uiteindelik by die huis opdaag en jy brand om hom te vertel, kry jy hierdie reaksie... "Net nie nou nie, asseblief!" Dit is genoeg om enige vrou afgehaal te laat voel, asof haar dinge nie belangrik genoeg is nie. 'n Lekker leun wat vrouens glo...

Jou man se brein is soos 'n opgaar tenk. Die hele dag dink hy oor alles wat met die werk te doen het. Dit is asof die tenk vol word en niks meer kan inneem nie. Hy het nodig om eers vir so 10 minute te ontspan voordat hy aandagtig na jou kan luister. Die tenk moet eers bietjie leeg gemaak word om plek te maak vir nuwe inligting. Jy is vir hom belangrik en dit is hoekom hy spesiale plek maak in sy brein om aandagtig na jou te luister. So werk saam met sy samestelling en gebruik dit tot jul albei se voordeel. Groet hom liefdevol en los hom dan vir so 10 - 15 minute. Vat vir hom ietsie om te drink en gesels dan rustig met hom. Julle sal albei vervulling beleef.

Die verskille tussen mans en vrouens is astronomies. Ons moet mekaar AANVUL en nie AANVAL nie. Soms dink ek dat mans dalk regtig van Mars is en vrouens van Venus, maar dink net hoe wonderlik die heelal is wanneer alles saamwerk




Vrydag 11 September 2015

AGTER ELKE MAN...

AGTER ELKE MAN...

"Jou meneer selfvertroue het toe al die tyd 'n geheimpie..."

Jy en jou man is saam in die winkel, wat al klaar 'n groot wonderwerk is, waar julle voor die rak met die gereedskap staan. Die huis het opknapping nodig en daarvoor nou die gereedskap. Jy verwonder jou aan al die goed. Goed om te meet, te kap te draai te knyp en wie weet wat alles. Eintlik weet jy nie regtig waarvoor al hierdie goed gebruik word nie en wonder verder hardop; "Wat sal 'n mens nou nodig hê vir dit wat ons wil doen?" Jou man gee een groot tree vorentoe met 'n regop "army" houding, vat 'n stel goed en sê; "Dit sal werk!" Jy dink; "Dankie tog, hy weet van dié goed." Maar wat jy nie weet nie is, dat alhoewel hy so vol selfvertroue lyk, sy gedagtes 'n warboel is. Hy dink; "Ek hoop hierdie goed werk. Dit is die eerste keer dat ek dit self moet doen en het eintlik nie 'n idee hoe nie. Ek hoop nie my vrou kom dit agter nie. Ek mag haar nie teleurstel nie. Ek hoop nie ek slaan my naam met 'n plank nie."

Die meeste mans het 'n diep innerlike kwesbaarheid waarvan vrouens nie eers bewus is nie. Iets in jou man se binneste hunker daarna om groot uitdagings aan te pak en moeilike take te voltooi. Maar terselfde tyd is die idee om onsuksesvol te wees baie angswekkend. Een van jou man se grootste emosionele behoeftes is om bevoeg en suksesvol te wees in wat hy doen, veral voor ander mense. Terselfde tyd het hy 'n oorheersende gevoel dat hy altyd dopgehou en beoordeel word. Dit laat hom skuldig voel omdat hy die meeste van die tyd onseker is. En dit op elke gebied van sy lewe, in 'n meerdere of 'n mindere mate.

Jou man mag soms baie lang ure werk omdat hy voel dat hy die heeltyd dopgehou word en as gevolg daarvan bevoeg geag moet word om 'n goeie voorsiener vir sy gesin te wees. Dit maak ook in 'n mate op vir sy onsekerheid. Maar soms is dit net regtig nodig om lang ure te werk om al die werk gedoen te kry.

Dit is skokkend, maar die meeste mans voel meer onseker tuis as op enige ander plek. By die werk het hulle min of meer 'n idee hoe om suksesvol te wees, maar tuis is dit soms 'n heel ander prentjie. Jou man is die heeltyd daaroor bekommerd of hy 'n goeie eggenoot vir jou is, 'n goeie pa vir julle kinders is, 'n goeie voorsiener vir die gesin is en of hy 'n goeie voorbeeld vir sy kinders is.

Hoe weet hy in elkgeval of hy suksesvol is? Jy is sy barometer. As jy gelukkig is, voel hy suksesvol. As jy hom afjak of die koue skouer gee, voel hy soos 'n mislukking en 'n nikswerd. Jy is eintlik veronderstel om sy veilige plek te wees, waar hy net homself kan wees, met al sy foute en onsekerheid. Hy moenie by jou voel asof hy hier ook nog toneel moet speel nie. Indien hy so by jou voel, gaan hy homself onttrek na 'n plek waar hy dit nie hoef te wees nie, soos die motorhuis, sy studeerkamer of sport op televisie ens. Dit is goed dat hy ook sy eie dinge doen, maar as hy dit verkies bo jou geselskap, is daar fout. Jou man moet so veilig by jou voel, dat met foute en al, hy die sekerheid het dat jy hom steeds sal respekteer, liefhê en ondersteun. 

Die meeste vrouens wil hê hul mans moet kan ontspan en eerlik oopmaak teenoor hulle wanneer hulle tuiskom. Dit is grotendeels jou verantwoordelikheid om so 'n intieme, veilige omgewing te skep wat dit moontlik maak. En dan is jou seksuele intimiteit met jou man natuurlik die bo-baas wenner om hom te laat voel dat hy meer as goed genoeg is... Jou man kan 'n aaklige dag hê. By die werk en op elke ander gebied. Maar as jy hom begeer en seksueel intiem met hom verkeer, bevestig dit sy manlikheid en hanteer hy die res van die wêreld so maklik soos kinderspeletjies. Jy kan vir jou man die selfvertroue gee om die wêreld te verower. Jy het die mag om van hom 'n sukses te maak!

Die gesegde; 
"Agter elke suksesvolle man, staan daar 'n vrou..."
is toe regtig die waarheid.






Woensdag 02 September 2015

JOU LIEFDE IS NIE GENOEG NIE...




JOU LIEFDE IS NIE GENOEG NIE....

"Jou man sal liewer voel dat jy hom nie lief het nie,as om te voel dat jy hom nie respekteer nie."

Die Woord praat in Efesiërs 5 van die vrou wat haar man moet eerbiedig en die man wat sy vrou moet liefhê. Die rede daarvoor is dat dit vir 'n man meer belangrik is om gerespekteer te word terwyl dit vir 'n vrou die belangrikste is om liefgehê te word. Dit is hoe God ons geskape het. 

Net soos jy dit nodig het om onvoorwaardelik lief gehê te word, net so het jou man jou onvoorwaardelike respek nodig. Hy het nodig om gerespekteer te word vir wie hy is - dit is jou man - en nie vir hoeveel hy daarvoor gewerk het nie. 

Vroue sal soms sê 'Ek het jou lief' maar wil terselfde tyd dinge beheer. Ongelukkig sien 'n man dit dat hy nie gerespekteer en vertrou word nie. Om hom te respekteer is om te kies om hom te vertrou, waardeer, bewonder en te eer. 

Het jy geweet dat indien jy kies om jou man ten alle tye te respekteer, hy outomaties meer liefde aan jou sal bewys. Die woorde wat die deure na jou man se hart oopsluit is... " My man ek is so trots op jou; ek vertrou jou" en "dankie vir dit wat jy doen".


Vertrou jou man se oordeel

Jy kan jou man respekteer deur vertroue te hê in sy kennis, opinies en besluite. Jy mag van jou man verskil, maar moet hom nie die hele tyd oor sy besluite bevraagteken en met hom stry nie. Moet ook nie in die strik trap om aan hom opdragte uit te deel soos aan die kinders nie. Dit laat hom baie 'stupid' voel.
Baie mans kry baie meer respek van hul kollegas af as van hul eie vrouens af. Dit is baie hartseer aangesien hy dit juis van sy vrou af nodig het. Dit is slegs by haar wat hy sy hart werklik sal oopmaak en waar hy die mees kwesbaarste is. 


Respekteer sy vermoeë.

Jou man het nodig om dinge vir homself te ontdek en uit te sorteer. Indien hy dit baasraak sal dit sy manlikheid bevestig en sy selfvertroue 'n verskrilike hupstoot gee. Die probleem is dat ons, vroue, die manne wil help en hulle sien dit as wantroue, dat jy dink hy het nie die vermoeë nie. Nee, los hom uit en vertrou hom. Moenie vir hom sê hoe hy dit moet doen nie. Wanneer hy slaag, prys hom. Hy sal uit sy vel uit wees van vreugde en voel asof hy lewe! Dit kan enige iets wees van 'n televisie instel tot by die gewildste een, om 'n pad/ plek te soek sonder om hulp te vra. 


Respekteer jou man vir sy prestasies.

Vroue het nodig om spesiaal en waardig aan liefde te voel aan die binnekant, terwyl mans nodig het om bewonder te word en gewaardeer te voel vir wat hulle bereik aan die buitekant. Wanneer jy vir jou man sê dat hy  'n goeie pa vir sy kinders is, beteken dit baie meer vir hom as wanneer jy vir hom sê dat jy hom liefhet.


Respekteer sy manier van kommunikasie.

Soms voel dit asof mans 'n ander taal as vrouens praat, al praat albei Afrikaans. 'n Vrou sal iets sê, dan hoor die man iets heeltemal anders...
  • Die drein is verstop. Vroulief sal sê; "Liefie, ons sal die loodgieter moet skakel, want die drein is verstop". Manlief is dadelik kwaad.Vroulief is geskok en verbaas oor haar man se optrede. Hoekom op dees aarde sal hy so reageer? Hy wou self die drein oopmaak, maar hoor dadelik dat sy hom nie vertrou daarmee of glo hy kan dit doen nie. Hy ervaar dit dat sy nie respek vir hom het nie. Sy moes eers gevra het of hy kans sien om dit te hanteer.
  • Vrou lief koop 'n pragtige skildery en sien al hoe dit pronk teen die eetkamer muur. Met groot entoesiasme vra sy vir manlief om dit vir haar op te hang. Hy belowe hy sal. Na twee weke is dit steeds nie gedoen nie. Sy sê; "Liefie, ek het jou al twee weke gelede gevra om die skildery in die eetkamer op te hang. Dit is nou nog nie gedoen nie. Sal jy dit asseblief doen?" Dadelik begin hy brom en lyk vreeslik ongelukkig. Nou hoekom dan? Hy hoor teleurstelling. Dit laat hom as man voel of hy gefaal het. Hy haat dit om te faal. Die feit van die saak is dat die skildery net nie so hoog op sy prioriteitslysie is  soos sy vrou sin nie.
  • Vroulief sê; "Gert, weet jy hoe om 'n motor se enjin oor te doen?" Dadelik is manlief omgekrap. Hoekom? Dit is net 'n onskuldige vraag. Hy hoor 'n aanval. Ja jy het reg gelees, 'n aanval. Sy moes die vraag versag het deur te sê; " Veronderstel 'n motor breek, weet jy of jy dalk die enjin sal kan oordoen?"  
Ek weet jy kan nie die hele tyd op eiers loop rondom jou man nie. Jy moet net meer sensitief wees vir sy gevoelens. Dit maak op die ou end nie saak wat jy dink jy sê nie, maar wel wat hy hoor.


Respekteer hom in die publiek.

Dit is vir jou man baie pynlik wanneer jy hom in die publiek kritiseer. Moet dit nie doen nie. 
Om hom in die publiek te terg, al bedoel jy dit speels, kan vir hom 'n vreeslike marteling wees. Veral voor ander mans. Die manlike geslag is altyd kompeterend met mekaar. Jou getergery kan die boodskap uitdra dat jy nie respek vir jou man het nie of dink hy kan nie sy manlike plig teenoor jou nakom nie. Hy kan soos 'n swakkeling lyk en die ander mans kan hom jammer kry of nog erger, dink dat hy ruggraat loos in sy werk ook is. Dit verneder jou man totaal en al. 
Die beeld wat jy van jou man uitdra is baie belangriker as wat jy dink. Jou opinie oor hom is belangriker as enige iemand anders sin. Dit weerspieël sy manlikheid. 
As jy met hom spog en hom opbou, veral voor ander mans, sal hy dink jy is die wondelikste vrou op aarde. 

Watter aannames maak jy oor jou man? Is daar respek in? Ons as vrouens neem sommer maklik aan dat die manne kies om ons nie te help nie, dat ons hulle die hele tyd aan alles moet herhinder of dat dinge sommer sy skuld is. Dit wys aan hom dat jy hom nie respekteer nie. Wanneer jou man voel dat jy nie respek vir hom het nie, kan dit veroorsaak dat hy emosioneel onttrek om homself te beskerm. Dit kan tot gevolg hê dat hy nie so liefdevol teenoor jou is as voorheen nie en dit kan ernstige negatiewe gevolge vir jou 
huwelik inhou. 

Het jy al ooit van die gesegde gehoor; 
"Happy wife, happy life?" 

Die waarheid is egter; 
"Respect your man and he will make you a happy wife with a happy life."





























J