Vrydag 23 Oktober 2015

SY GEHEIME OOR ROMANSE

SY GEHEIME OOR ROMANSE...

"Dink hy om romanties te wees is tyd mors?"

Het jy geweet dat 98% van die manne, ongeag hul voorkoms, ouderdom of kultuur, 'n behoefte het aan romanse? Ja, dit is beslis die waarheid.

Jou idee van romanse mag dalk net verskil van syne, en dan mis julle mekaar op daardie vlak. Jy sien, vrouens kry die indruk dat romanse slegs bestaan uit blomme, sjokolade of 'n geskenkie, kerslig ete en miskien bietjie liefkosing en lepellê. Dit is nie verkeerd nie. Vrouens het 'n behoefte daaraan en mans ook soms. 

Vir party mans het romanse 'n heel ander betekenis. Hulle idee om romanties te wees, is om saam met hul vrouens te speel. Hulle wil avontuurlistige dinge saam met hul vrouens doen, soos perd ry, gholf speel, motorfiets ry, 'n ent gaan stap of net in die motor ry. Selfs om so bietjie te stoei is ook vir hom romanties. Hulle wil aktiwiteite saam met hul vrouens aanpak. Ons het dit nou al soveel keer gemis omdat ons dit nie besef het nie. En elke keer was hy teleurgesteld en hartseer.

Soms moet 'n vrou die pligte bietjie op sy skuif om saam met haar man te gaan speel. So wat daarvan as die skottelgoed nie nou gewas word nie? Gaan ry eers bietjie fiets saam met die liefde van jou lewe. Dis baie belangriker as die vuil skottelgoed. Die lewe is so kort. Ons moet leer om mekaar te geniet en te waardeer terwyl ons nog kan. Wie weet wat more mag gebeur?

Mans is ongelukkig ook nie geneig om romanse te inisieer nie. Die soort waarvan vrouens hou, die kerslig ete en alles wat daarmee saamgaan. Hulle voel net dood eenvoudig onbevoeg daarmee en wat ons nou al van die manne geleer het, is enige kans om sy ego op die spel te plaas heeltemal buite die kwessie. So dit is hoekom vrouens onder die indruk verkeer dat mans nie romanties is nie. Hulle wil eintlik baie graag romanties wees, maar is te bang om dit te waag.

Indien hy dit sou waag om op jou manier romanties te wees, en dit blyk om suksesvol te wees, moet jy ook maar weet hy soek betaling. Ja, natuurlik... SEKS! Maar nie net seks nie. Hy wil intiem liefde maak. Die hele romantiese ding was vir hom 'n geweldige uitdaging en baie harde werk. Hy wil jou goedkeuring ervaar en sy manlikheid bevestig en dit gebeur natuurlik deur middel van die liefdesdaad. So dames, indien jy gelukkig genoeg is dat die man in jou lewe iets romanties beplan, moet jy weet wat sy teiken aan die einde van die aand gaan wees. Indien dit nie gebeur nie, sal jy beslis nie gou weer iets romanties van sy kant af kan verwag nie. 

Party van ons is gelukkig dat ons soms blomme of sjokolade van manlief af kry. Waardeer sy moeite. Kompliment eer hom daarvoor, maak nie saak hoe gering sy gebaar is nie. Dit sal vir hom die selfvertroue gee om volgende keer bietjie meer te waag. 

Julle moet 'n middeweg vind om in mekaar se romantiese behoeftes te voldoen. Hy moet so nou en dan die blomme en sjokolade ding doen terwyl jy aan die ander kant weer 'n aktiwiteit saam met hom doen wat hy geniet. Verhoudings is baie werk en ons moet moeite doen om mekaar te verstaan en aan te vul. Dit is oor en oor die moeite werd. Die pad van maanskyn en rose is nie sonder dorings nie, maar dis absoluut asemrowend en versprei die lieflikste geur. 

Ek daag jou uit om jou man se voete onder hom uit te slaan hierdie week. Stel voor dat julle 'n aktiwiteit wat jy weet hy geniet saam doen en kyk wat is die gevolg...


Geen opmerkings nie: