Vrydag 09 Oktober 2015

LOER HY ASPRIS OF PER ONGELUK...?

LOER HY ASPRIS OF PER ONGELUK...?

"Dit maak egter nie saak hoe oud, jonk, watter kultuur of geloof hy is nie..."

Ons het almal al gehoor dat mans visueel ingestel is, maar wat beteken dit regtig?

Die volgende inligting mag dalk seker vroue ontstel, maar ek wil jou aanraai om dit tot voordeel van jou verhouding met jou man te gebruik. Moenie skietgoed bymekaar maak nie, maar leer om hom te verstaan en te ondersteun. Onthou, hy, net soos jy, is deur God geskape en na Sy beeld. Indien jy hierdie inligting tot jul voordeel gebruik kan jou verhouding baie pret inhou.

Kom ons kyk na die manlike brein en sy bedrading. Die man se breinstuktuur en chemiese stowwe maak hom baie visueel georienteer. Daardie tipe bedrading maak hom meer vatbaar vir die aantreklike beeld van 'n mooi vrou wat hy as 'n seksuele sneller kan ervaar.Sy reaksie is instinktief en outomaties. 

Daar is 'n klein sentrum in die brein wat die "nukleus accumbens" genoem word. Hierdie gedeelte van die brein beheer die dinge waaraan ons nie noodwendig dink nie soos, asemhaling, hartklop, spysvertering ensovoorts. Dit is ook die gedeelte van die brein wat ophelder wanneer jy vreeslik honger is en instinktief na kos getrek word. Net soos jy kan besluit om dadelik te eet of dit te ignoreer, net so gebeur dit wanneer 'n man 'n mooi vrou sien. Die "nukleus accumbens" helder op. Hy word instinktief na haar toe aangetrek, maar dan kan hy besluit om op die versoeking te reageer of te ignoreer. Dit maak egter nie saak hoe oud, jonk, watter kultuur of geloof die man is nie. Alle mans is so bedraad. Dit wil tog voorkom dat gelowige getroude mans meer selfbeheersing in daardie opsig toon as die res. Die intensiteit daarvan varieer wel van man tot man. Die ergste is dat hierdie verleidelike beelde gestoor word en dat dit onwillekeurig weer in sy gedagtes voorkom, of hy kan dit willekeurig oproep. Wanneer dit onwillekeurig hul opwagting maak, kan hy dan weer kies om dit te ignoreer. Vir die meeste vroue is dit egter onverstaanbaar omdat ons nie so bedraad is nie. 

Omdat hy 'n man is kan hy nie help om te kyk nie. Maar dit verander nie sy emosies teenoor jou nie. Daar is ook nie iets met jou verkeerd dat hy na 'n ander vrou loer nie. Indien jy hom betrap, staan bietjie terug en sien hoe gou hy skaam kry en wegkyk. Dit omdat hy jou lief het en respekteer. Dit verg baie selfbeheersing, krag en dissipline van sy kant af om jou op hierdie manier te eer.

Daar is tog gerusstellende elemente wat 'n groot deel uitmaak van jou man se innerlike lewe. Hy wens waarskynlik dat hy sy visuele natuur slegs vir jou kon reserveer. Alhoewel hy getrek word na die beeld van 'n mooi vrou kan hy haar ook sien sonder enige seksuele versoeking. Mans verskil in dissipline en dit maak die verskil in sy gedrag.

As vrou kan jy jou man help en bystaan. Eerstens kan jy vir hom bid. Hy word daagliks gebombardeer met visuele versoekings van mooi half naakte vroue. Die groot sondebok daarvoor is die media met al die advertensies van produkte wat verkoop word met 'n half kaal vrou as aantrekkingskrag. 

Ondersoek jou hart. Is jy lief vir jou man vir wie hy is, of wil jy hom verander? Onthou, dit is God wat hom geskape het. Een man het hierdie baie diep innerlike onthulling gemaak. Dit is eintlik 'n hulpkreed na sy vrou...
"To accept the struggle I have with lust, and encourage me rather
 than freak out and conclude the worst about me. The more I can reveal
 my weakness without being judged or accused, or without a major crisis
 in our relationship resulting from my transparency, the more I know I am
 loved for who I am and not for who she wants me to be."

Word die ondersteuning. Laat jou man weet dat jy verstaan deur watter moeilike situasies hy elke dag moet gaan, in terme van sy visuele ingesteldheid, en dat jy bereid is om daaroor te gesels indien hy sou wou. 

Sien sy pogings raak om jou te eer wanneer hy wegkyk en waardeer dit. 

Vrouens moet bewus gemaak word van die probleem wat hulle vir 'n man kan skep deur hul kleredrag. Klee jouself skaflik en leer jou dogters om dit ook te doen.

Nou dat jy weet hoe jou man visueel bedraad is, kan jy dit ook tot jou voordeel gebruik. Jy kan sorg dat jy is wat hom visueel stimuleer. Versorg jouself mooi en wees bietjie verleidelik in die slaapkamer. Hy sal daardie prentjie koester omdat dit verband hou met sy liefde vir jou. Wees mooi, vroulik en smaakvol geklee in die openbaar. Sy bors sal swel van trots as ander mans jou raaksien en hy weet "sy is myne!" Hy wil met jou aan sy sy kan spog. 





Geen opmerkings nie: