Vrydag 11 September 2015

AGTER ELKE MAN...

AGTER ELKE MAN...

"Jou meneer selfvertroue het toe al die tyd 'n geheimpie..."

Jy en jou man is saam in die winkel, wat al klaar 'n groot wonderwerk is, waar julle voor die rak met die gereedskap staan. Die huis het opknapping nodig en daarvoor nou die gereedskap. Jy verwonder jou aan al die goed. Goed om te meet, te kap te draai te knyp en wie weet wat alles. Eintlik weet jy nie regtig waarvoor al hierdie goed gebruik word nie en wonder verder hardop; "Wat sal 'n mens nou nodig hê vir dit wat ons wil doen?" Jou man gee een groot tree vorentoe met 'n regop "army" houding, vat 'n stel goed en sê; "Dit sal werk!" Jy dink; "Dankie tog, hy weet van dié goed." Maar wat jy nie weet nie is, dat alhoewel hy so vol selfvertroue lyk, sy gedagtes 'n warboel is. Hy dink; "Ek hoop hierdie goed werk. Dit is die eerste keer dat ek dit self moet doen en het eintlik nie 'n idee hoe nie. Ek hoop nie my vrou kom dit agter nie. Ek mag haar nie teleurstel nie. Ek hoop nie ek slaan my naam met 'n plank nie."

Die meeste mans het 'n diep innerlike kwesbaarheid waarvan vrouens nie eers bewus is nie. Iets in jou man se binneste hunker daarna om groot uitdagings aan te pak en moeilike take te voltooi. Maar terselfde tyd is die idee om onsuksesvol te wees baie angswekkend. Een van jou man se grootste emosionele behoeftes is om bevoeg en suksesvol te wees in wat hy doen, veral voor ander mense. Terselfde tyd het hy 'n oorheersende gevoel dat hy altyd dopgehou en beoordeel word. Dit laat hom skuldig voel omdat hy die meeste van die tyd onseker is. En dit op elke gebied van sy lewe, in 'n meerdere of 'n mindere mate.

Jou man mag soms baie lang ure werk omdat hy voel dat hy die heeltyd dopgehou word en as gevolg daarvan bevoeg geag moet word om 'n goeie voorsiener vir sy gesin te wees. Dit maak ook in 'n mate op vir sy onsekerheid. Maar soms is dit net regtig nodig om lang ure te werk om al die werk gedoen te kry.

Dit is skokkend, maar die meeste mans voel meer onseker tuis as op enige ander plek. By die werk het hulle min of meer 'n idee hoe om suksesvol te wees, maar tuis is dit soms 'n heel ander prentjie. Jou man is die heeltyd daaroor bekommerd of hy 'n goeie eggenoot vir jou is, 'n goeie pa vir julle kinders is, 'n goeie voorsiener vir die gesin is en of hy 'n goeie voorbeeld vir sy kinders is.

Hoe weet hy in elkgeval of hy suksesvol is? Jy is sy barometer. As jy gelukkig is, voel hy suksesvol. As jy hom afjak of die koue skouer gee, voel hy soos 'n mislukking en 'n nikswerd. Jy is eintlik veronderstel om sy veilige plek te wees, waar hy net homself kan wees, met al sy foute en onsekerheid. Hy moenie by jou voel asof hy hier ook nog toneel moet speel nie. Indien hy so by jou voel, gaan hy homself onttrek na 'n plek waar hy dit nie hoef te wees nie, soos die motorhuis, sy studeerkamer of sport op televisie ens. Dit is goed dat hy ook sy eie dinge doen, maar as hy dit verkies bo jou geselskap, is daar fout. Jou man moet so veilig by jou voel, dat met foute en al, hy die sekerheid het dat jy hom steeds sal respekteer, liefhê en ondersteun. 

Die meeste vrouens wil hê hul mans moet kan ontspan en eerlik oopmaak teenoor hulle wanneer hulle tuiskom. Dit is grotendeels jou verantwoordelikheid om so 'n intieme, veilige omgewing te skep wat dit moontlik maak. En dan is jou seksuele intimiteit met jou man natuurlik die bo-baas wenner om hom te laat voel dat hy meer as goed genoeg is... Jou man kan 'n aaklige dag hê. By die werk en op elke ander gebied. Maar as jy hom begeer en seksueel intiem met hom verkeer, bevestig dit sy manlikheid en hanteer hy die res van die wêreld so maklik soos kinderspeletjies. Jy kan vir jou man die selfvertroue gee om die wêreld te verower. Jy het die mag om van hom 'n sukses te maak!

Die gesegde; 
"Agter elke suksesvolle man, staan daar 'n vrou..."
is toe regtig die waarheid.






Geen opmerkings nie: