Vrydag 28 Augustus 2015

Geheime van 'n man se hart.

GEHEIME VAN 'N MAN SE HART


'n Kennis van my het onlangs in een van sy artikels iets genoem van die vrou wat 'n komplekse wese is (ons almal weet dit), "maar wie weet tog wat in 'n man se hart aangaan? Wie weet hoe gekompliseerd die samestelling van sy binneste is?"


Dit is so waar. Almal is altyd besorg oor die kompleksiteit van die vrou en mans staan agter in die ry. Ek dink dis baie belangrik om meer ag te slaan op die manlike wese en ook 'n beter begrip vir die man in jou lewe te hê. Die meeste vroue het eintlik geen benul van hoe haar man se samestelling funksioneer nie, terwyl die manne onder die indruk is dat vroue wel weet. 

Navorsing deur John Hagee het bewys dat daar tien dinge is wat elke man in 'n vrou wil hê.
  1. Hy wil seksueel vervul word.
  2. Hy wil 'n maat hê saam met wie hy kan ontspan.
  3. Hy wil 'n mooi vrou hê.
  4. Hy wil 'n toegewyde tuisteskepper hê.
  5. Hy wil bewonder word.
  6. Hy wil 'n vrou hê met morele waardes.
  7. Hy wil iemand hê met 'n sin vir humor.
  8. Hy wil iemand hê wat intelligent is.
  9. Hy wil iemand hê wat hy ten volle kan vertrou.
  10. Hy wil iemand hê wat absoluut eerlik is.
Daar is dinge wat vroue van mans weet, maar nie werklik besef wat dit beteken nie. Ek wil graag die volgende gloeilampies vir jou as vrou aanskakel sodat jy die man in jou lewe beter kan verstaan en ondersteun.

'n Man benodig respek.
Jou man sal liewer voel dat jy hom nie lief het nie as om onbeholpe te voel en dat jy hom minag of nie respek het vir hom nie.

Jou man is onseker
Ten spyte van jou man se self versekerde houding, voel hy gereeld soos 'n indringer en onseker. Hy is ook verskriklik bang dat sy onsekerheid uitgevang sal word.

Jy dink jou man vermy belangrike kwessies deur te onttrek.
Die waarheid is dat jou man onttrek om eers oor die kwessie na te dink  sodat hy later beter daaroor kan gesels.

Jou man wil die broodwinner wees
Selfs al verdien jy genoeg geld om die hele familie te onderhou, maak dit geen verskil aan jou man se ingebore behoefte en verantwoordlikheidsin om die voorsiener te wees nie.

Jou man wil meer seksueel met jou verkeer.
'n Jou se seksuele begeerte na jou man beïnvloed sy welstand en selfvertroue geweldig op alle areas van sy lewe.

Jou man is visueel ingestel.
Selfs baie gelukkig getroude mans sukkel om nie na 'n mooi vrou te kyk nie.

Jy dink jou man is onromanties.
Eintlik geniet die meeste mans dit om romanties te wees (soms op 'n heel ander manier as 'n vrou). Hy wil graag romanties wees, maar is sku omdat hy in sy hart twyfel of hy dit sal regkry.

Jou man gee om oor hoe jy lyk.
Jy het nie nodig om 'n nommer agt rok grootte te wees nie, maar jou man het nodig om te sien dat jy moeite doen om jouself te versorg.

Alhoewel mans en vroue een spesie is, is die verskille tussen hulle verbasend groot. Dit is amper asof hulle verskillende tale praat en soos hulle sê van verskillende planete kom. "Men are from Mars and women from Venus".

Oor die volgende paar weke gaan ek die bogenoemde punte in besonderhede bespreek. So kom saam met my op hierdie besonderse reis en beleef die avontuur na jou man se hart en leer sy taal verstaan.





Geen opmerkings nie: