WAT BETEKEN SEKS VIR HOM?
Jou seksuele begeerte na jou man affekteer sy welstand en selfvertroue op elke vlak van sy lewe.Mans soek meer seks! Nee, dit gaan nie net oor die fisiese deel daarvan nie.Om seksueel met sy vrou te verkeer laat hom emosioneel stabiel voel. Dit gee hom krag en selfvertroue om die wêreld aan te durf. En natuurlik is daar liefde aan gekoppel. Maar hy wil ook begeer word. Die daad alleen is nie genoeg nie. Hy het jou nodig om hom seksueel te begeer en om intiem met hom liefde te maak. 'n Tekort daaraan is vir hom emosioneel aftakelend.
Hoe sterk 'n man se behoefte aan seks ook al mag wees, sal hy liewer in die 'garage' gaan timmer as om seksueel met 'n passiewe maat te verkeer. Dit help nie jy besef dat seks vir hom belangrik is en jy laat dit maar net toe uit plig nie. Hy het nodig dat jy hart en siel saam met hom die spel van die liefde geniet. Anders voel hy verwerp. Hy hoor dan dat hy jou nie eers opgewonde kan maak nie, al probeer hy ook. Dit is 'n groot hou vir sy selfbeeld.
Wanneer jy vir hom sê; "nie vanaand nie, liefie", voel hy verwerp. Jy bedoel dalk dat jy moeg is en net nie nou seksueel wil verkeer nie, maar hy voel verwerp. Die rede daarvoor is dat hy hoor dat hy so pateties is, dat hy nie eers met jou kussing kan kompeteer nie.
Het jy geweet dat seksuele intimiteit vir jou man so nodig is dat as hy dit nie kry nie, hy in depressie sal verval. Erg, nè?
Jy as vrou hou die sleutel tot jou man se geluk en sukses. Jy kan die seksuele gaping oorkom deur te kies om jou man lief te hê op die manier wat hy dit nodig het. En wanneer jy regtig nie intiem met hom kan verkeer nie, onthou dat jy met 'n sensitiewe hart werk. Gebruik woorde en aksies om hom te laat verstaan dat jy hom begeer en intiem met hom wil verkeer, maar dit net nie nou fisies vir jou moontlik is nie. Praat sag en liefdevol.
Raak betrokke by die spel van die liefde en geniet dit. Sit pret daarin. Jy mag maar. Hy sal dit beslis waardeer. Manne het die behoefte aan 'n goeie vrou met morele waardes wat vriendelik is teenoor almal. Maar wanneer die kamerdeur toe getrek word, moet sy in 'n wilde kat verander. Al wat dit beteken is dat jy soms die eerste stap moet neem om seks te inisieer. Hulle sê; "a boring wife, a boring life".
Maak seks 'n prioriteit. Jou man het jou seksueel meer nodig as skoon klere of selfs 'n warm bord kos. Moenie dat jou daaglikse pligte jou van jou man vervreem nie. Kry jou prioriteite reg en wees die vrou wat jy geskape is om te wees. 'n Maat vir jou man...
Indien daar een of ander rede is hoekom jy voel dat jy nie seksueel selfvertroue het nie, doen die moeite en kry hulp om die probleem op te los. Dit sal jou man, jou verhouding en jou eie huweliksgeluk bevoordeel.
Nou dat jy hierdie teer hart van jou man verstaan, het jy hopenlik meer kompassie ontwikkel vir die manier hoe hy gemaak is.
Geniet jou man, mevrou!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking